Minnie Burger - 21 April 2015



Die Bestuurderes
Onze Rust Sentrum vir Bejaardes
Steynsrus

Minnie Burger

Ek verwys na my besoek aan die sentrum op Maandag 13 April 2015 om 14:00. Die doel van my besoek was om my jarelange vriende Dawie en Annetjie Mulder net vinnig hallo te sê. Hierdie twee inwoners het ‘n woonstel gekoop in die sentrum, hulle is nog baie aktief en ry nog baie rond. Ek is reeds vir baie jare vriende met hierdie mense, lank voordat hulle in die sentrum kom woon het.

U het tydens my besoek en in die teenwoordigheid van mev Baker van Departement Sosiale Ontwikkeling en nog ‘n ander onbekende dame, my meegedeel dat ek nie nou die inwoners kan besoek nie want hulle moet nou rus. Dit was vir my vreemd dat u sommer vir die woonstelbewoners besluit wanneer hulle moet rus en wanneer hulle gaste mag ontvang of nie. Terloops daar is geen besoekure by hierdie sentrum waarvan ek bewus is nie.

Op Dinsdag 14 April 2015 het ek weer die sentrum besoek en word ek deur Christine Coetzee meegedeel dat ek en my ma die sentrum verbied is. Waarom het jy my nie reeds die Maandag gesê ek is verbied nie? Nee jy het Christine misbruik om jou vuil werk te doen want jy was te lafhartig om dit vir my self te sê. Net soos jy destyds te lafhartig was om daardie van Niekerk vent die sentrum te verbied.

Wie die hel dink jy in elk geval is jy om vir die inwoners van die sentrum te besluit wie hulle mag besoek en wie nie. Dit is ‘n skending van my en al die inwoners van die sentrum se menseregte soos bepaal deur die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika. Ek verwag nie dat jy die Grondwet moet ken nie want jy ken dan nie eers die wet op oumense nie en dit kan bewys word. Die volgende aspekte van die Grondwet word oortree:

“1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte
en vryhede.”

“10. Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.”

“18. Elkeen het die reg op vryheid van assosiasie.”

‘n Klagte word vandag by die Menseregtekommissie ingedien. Alhoewel ek mev Baker geensins vertrou nie, sal ek nogtans ‘n klagte by die Departement Sosiale Ontwikkeling indien.

In die tydperk wat ek by die gemeenskapsdiens betrokke was het ek nie net die aanranding op Johan Smith waargeneem nie maar ook verskeie ander voorvalle wat jy niks aan gedoen het nie. Die aanranding van Johan Smith was maar net ‘n puntjie van die ysberg. Ek het elke dag wat ek gewerk het waargeneem hoe daardie Mavis Nagel ding op die inwoners skreeu en vloek. Ek het gesien hoe sy meer as een keer in die eetsaal Charles se mond hardhandig oop forseer het om te kyk of hy sy pille gedrink het. Dan het sy weer soos gewoonlik soos ‘n orige vulgêre ding in die eetsaal begin dans. In my bedankingsbrief destyds het ek genoem dat daar probleme is maar jy het nie eers die moeite gedoen om uit te vind wat aangaan nie. Jy dink net aan jouself en jou posisie by die sentrum. Jy doen niks om die inwoners of personeel te beskerm nie behalwe natuurlik die kriminele.

Hoeveel kere het jy nie in die kombuis die personeel voor my gedreig dat as hulle net iets soos ‘n snytjie tamatie eet dan is hulle gefire. Behalwe dat jy jouself op die wyse bewys het as ‘n swak bestuurderes, het jy ook duidelik getoon dat jy nie die arbeidswette ken nie. Dit kom ook daarop neer dat jy ‘n snytjie tamatie belangriker ag as ‘n inwoner wat aangerand word.

Indien jy destyds jou werk gedoen het met my bedankingsbrief dan sou verskeie probleme verhoed gewees het. Eerstens sou my ma nie so geteister en aangerand gewees het deur daardie van Niekerk gemors nie. Maar wat het jy omtrent die saak gedoen? Absoluut niks dit terwyl my ma se gesondheid ‘n ernstige knou gekry het. Weer het jy nie ‘n personeellid beskerm nie maar wel die krimineel. Tweedens kon die verdere gevloekery op inwoners deur Mavis Nagel verhoed gewees het. Selfs nadat ‘n skriftelike klagte oor die aanrandings en gevloekery ingedien was het jy nog steeds niks gedoen nie, weereens het jy die krimineel beskerm en nie die inwoners soos wat van ‘n goeie bestuurderes verwag word nie. Derdens kon dit verhoed gewees het dat my ma onskuldig afgedank is indien jy jou werk gedoen het. Maar nee iemand moet gestraf word om te verbloem dat die sentrum onbekwaam en uiters swak bestuur word en verder moes die misdade in die sentrum ook nog toegesmeer word.

Al hierdie probleme kon verhoed gewees het as jy nie te sleg was om jou werk te doen nie.

‘n Verslag oor al die gebeure word nou opgestel vir voorlegging aan minister Dlamini.

Dit is in belang van die publiek dat hulle bewus gemaak word van wat werklik aangaan in die sentrum en ek sal geen steen onaangeroer laat om dit moontlik te maak nie.


Petro Beukman