Aanranding van Johan Smith



Hiermee verklaar ek Petro Beukman dat ek op Donderdag 10 April 2014 waargeneem hoe die stafverpleegster, Mavis Nagel, ‘n beroerte pasient, Johan Smith, in sy rolstoel fisies en verbaal aangerand het. Hierdie aanranding is skriftelik aangemeld maar ONZE RUST en ENGO het uit hulle pad gegaan om hierdie misdaad te ontken en het alles in hul vermoë gedoen om hierdie misdaad toe te smeer.

Wat ‘n lae skande!

ONZE RUST het selfs sovêr gegaan om baie maande nadat die aanranding bekend gemaak is, skielik ‘n aantekenrooster uit te diep wat aantoon dat Nagel kwansuis nie daardie betrokke dag gewerk het nie. Wat ONZE RUST nie in berekening gehou het met hierdie skielike rooster nie, is dat Nagel baie graag spog oor dinge wat sy aanvang. So het Nagel op Sondag 29 Maart 2015 in JS Food Market aan my erken dat die aantekenrooster gedokter is en dat niemand haar kan moeilikheid gee nie. Met ander woorde nou het ons ook met bedrog te doen.

So lank as ek lewe en ek is bereid om daarvoor tronk toe te gaan, staan ek daarby dat Johan Smith aangerand was in ONZE RUST. Ek daag ONZE RUST en ENGO uit om te reël vir ‘n leuenverklikkertoets vir my, Mavis Nagel en enige ander persoon wat ENGO goeddunk. Tot sodanige leuenverklikkertoets gedoen word, staan ek daarby dat Nagel vir Johan Smith aangerand het.

Hier is wat ek waargeneem het:

Op Donderdag 10 April 2014 omstreeks 13:00 het ek, Petro Beukman, tydens gemeenskapsdiens, waargeneem dat die stafverpleegster, Mavis Nagel, vir Johan Smith verbaal en fisies aanrand. Ek het uit die kombuis van ONZE RUST deur die eetsaal beweeg en daardie Nagel en Johan Smith met sy rolstoel in die ingangsportaal aangetref. Nagel het voor Johan Smith gestaan met haar rug na die deur van die eetsaal. Reeds toe ek deur die eetsaal beweeg het kon ek hoor hoe daai Nagel op Johan Smith skreeu maar ek kon nie die woorde duidelik uitmaak nie. Eers toe ek nader aan die deur van die eetsaal beweeg het kon ek Nagel se woorde uitmaak naamlik: “jy kan fokken wag ek is besig” tersefdertyd het Nagel Johan Smith aan sy hemp rondgepluk. Alhoewel Johan Smith nie kan praat nie en net geluide maak, het Johan Smith heftig gereageer op daardie Nagel ding se aanranding en was bloedrooi in die gesig. Op Johan Smith se uitbarsting het Nagel gereageer deur hom met die plat hand bo op sy kop te slaan. Ek het toe terug gedraai en is na die kombuis waar ek my ma net meegedeel het dat ek huis toe gaan en nie weer terug kom vir gemeenskapsdiens nie. Ek het nie gesê hoekom nie. Johan Smith is ‘n beroerte pasient.

Hierdie aanranding wat ek gesien het, het my hewig ontstel en het ek besluit dat ek nie weer teruggaan ONZE RUST toe nie. Op Maandag 14 April 2014 het ek skriftelik per epos by ONZE RUST gemeenskapsdiens bedank.